WAAROM IS VROUE SE DEELNAME AAN WETGEWING BELANGRIK?
Meer as die helfte van die Suid-Afrikaanse bevolking is vroue en daarom moet vrouestemme ingesluit word by besluitneming en wetgewing. Die insluiting van vroue in besluitnemingsprosesse is 'n fundamentele mensereg. Vroue moet deelneem aan wetgewing want die implementering van wette en regeringsbeleidsrigtings het 'n uitwerking op hul daaglikse lewe. Wat nog belangriker is, is dat navorsing bewys het dat wanneer vroue deelneem aan besluitnemingsprosesse, dit tot 'n verhoogde fokus lei en die toewysing van hulpbronne almal se lewensgehalte verbeter.1 'n Toename in vroue se deelname aan wetgewing kan ook tot 'n verbetering lei in die toegang tot basiese dienste soos behuising, onderwys en welsynsdienste.
HOE KAN VROUE DEELNEEM AAN WETGEWING?
Die Suid-Afrikaanse Grondwet sê dat daar openbare toegang tot en betrokkenheid by die Parlement en sy prosesse moet wees. Dit kan op verskeie maniere geskied.
Vroue kan deelneem aan wetgewing deur te stem vir die politieke party wat hulle dink hul belange die beste in die Parlement sal verteenwoordig. Hulle kan ook betrokke raak deur vir hul gekose party te organiseer en te werk, en deur hulle verkiesbaar te stel vir die party se strukture. Vroue het op hierdie manier die hoogste posisies beklee.
Die publiek het 'n reg om komiteevergaderings by te woon en om deel te neem aan Openbare Verhore. As 'n saak van groot openbare belang is, sal 'n Komitee in die Nasionale Vergadering of die Nasionale Raad van
Provinsies besluit om Openbare Verhore te hou of om vir voorleggings te vra. Die publiek kan die Portefeulje of Gekose Komitee inlig oor hul menings of oor 'n saak wat hulle bespreek. Lede van die publiek kan 'n
Parlementslid kontak om hul mening te lug oor wetgewing.
WATTER GRONDWETLIKE BEPALINGS MAGTIG VROUE SE DEELNAME?
Die Suid-Afrikaanse Grondwet bied 'n raamwerk vir die bevordering van geslagsgelykheid, en daardeur ook vir die deelname van vroue aan wetgewing. Die Grondwet bevat verskeie bepalings wat geslagsgelykheid bevorder. Die Handves van Menseregte waarborg gelyke behandeling van alle Suid-Afrikaners. Dit verbied onregverdige diskriminasie op grond van ras, geslagtelikheid of geslag. Die Handves van Menseregte lê klem daarop dat stappe gedoen moet word om gelykheid op alle vlakke van die samelewing te bereik.
Die Grondwet maak voorsiening vir instellings wat demokrasie, asook die deelname van vroue, ondersteun. Dit sluit, onder andere, die Kommissie op Geslagsgelykheid en die Suid-Afrikaanse Menseregte Kommissie in.
Benewens bepalings in die Grondwet, het Suid-Afrika homself verbind tot geslagsgelykheid deur sy ratifisering van internasionale konvensies soos die Konvensie oor die Uitwissing van Diskriminasie Teen Vroue (CEDAW) en die Aksieplatform, wat gestig is by die Beijing Vroueberaad. Suid-Afrika neem deel aan etlike Afrika aksieprogramme vir die bevordering van vroue, bv. die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) protokol oor geslag en ontwikkeling.
WAT IS DIE SLEUTELSTRUKTURE VIR VROUE SE BYDRAE TOT WETGEWING?
Die eerste en belangrikste punt waar vroue by wetgewing betrokke kan raak, is verkiesings. Deur in verkiesings te stem, bepaal burgers die samestelling van sowel die Nasionale Vergadering as die Nasionale Raad van Provinsies. By nasionale verkiesings het alle burgers bo 18 die reg om vir die party van hul keuse te stem. Vroue is 'n aansienlike persentasie van die kieserskorps, en hulle kan hul stemreg gebruik om die samestelling van die Parlement te bepaal. Hulle kan ook bepaal watter prioriteit dié instelling aan vrouebelange toeken.
Die vierde Parlement het die volgende komitees saamgestel om regstreeks na vrouebelange om te sien:
Die Portefeulje Komitee oor Vroue, Kinders en Mense met Gestremdhede
Die Gekose Komitee oor Vroue, die Jeug, Kinders en Mense met Gestremdhede n Nuwe Ministerie vir Vroue, Kinders en Mense met Gestremdhede is ook in die lewe geroep om die regering se werksaamhede t.o.v. van die ontwikkeling en beskerming van kwesbare persone in ons samelewing te konsolideer.
WATTER UITDAGINGS BEMOEILIK VROUE SE DEELNAME AAN WETGEWING?
Hoewel vroue die meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking uitmaak, speel hulle nog steeds 'n ondergeskikte rol in besluitneming. Daar is talle uitdagings wat verhinder dat vroue 'n volwaardige en betekenisvolle rol speel, en die vernaamste hiervan is armoede. Armoede is vir baie vroue in Suid-Afrika 'n struikelblok, veral op die platteland.
Toegang tot basiese dienste soos onderwys, water en welsynsdienste word deur ongelykhede van ras, klas en geslag geraak. Vroue moet beter toegang verkry tot hierdie basiese geriewe voordat hulle volwaardig kan bydra tot wetgewing. Arm vroue het onvoldoende toegang tot die instellings wat wette instel.
Die meeste vroue is nog nie ekonomies bemagtig nie. Tradisioneel is vroue die behoeftigste deel van die Suid-Afrikaanse bevolking en is hulle die meeste blootgestel aan werkloosheid of onvoldoende indiensneming. Verder raak MIV/Vigs 'n veel groter persentasie vroue as mans, veral in die ouderdomsgroep wat kan swanger word.
Geweld teen vroue bly een van die grootste uitdagings in Suid-Afrika.
Die toenemende vestiging van demokrasie in Suid-Afrika het vroue se toegang tot politieke mag en besluitneming verbeter. Suid-Afrika het ook wetgewing aanvaar wat uitdruklik op geslagsgelykheid gemik is.
Die uitdaging is om dit vir vroue moontlik te maak om hierdie regte te benut.
HOE GOED WORD VROUE TANS IN DIE PARLEMENT VERTEENWOORDIG?
Die verteenwoordiging van vroue in die Nasionale Vergadering het met 45% toegeneem. Suid-Afrika is derde ter wêreld wat die verteenwoordiging van vroue in die Parlement betref.
WATTER ROL KAN MANS SPEEL?
Mans kan 'n belangrike rol in die bereiking van geslagsgelykheid in die Suid-Afrikaanse gemeenskap speel. Meer mans neem standpunt in teen geweld teenoor vroue en kinders. Mans moet invloed uitoefen op ander mans sodat hulle hul gesindheid verander en vroue respekteer. Mans en vroue het 'n gelyke en belangrike rol in die omvorming van geslagsverhoudinge in die gemeenskap. Geen gemeenskap kan werklik bevry wees tensy vroue en mans nie gelyk en vry is nie, en dit vereis gedeelde verantwoordelikheid.
Verdere leesstof:
BELANGRIKE INLIGTING:
Hierdie pamflet is in alle amptelike Suid-Afrikaanse tale beskikbaar.
